Spore in die Bos: swerftog van 'n olifant by Hennie van Deventer

Spore in die Bos: swerftog van 'n olifant

byHennie van Deventer

Kobo ebook | November 9, 2012

Pricing and Purchase Info

$5.24

Prices and offers may vary in store

Available for download

Not available in stores

about

Stropers, storms, brande, uitdunning, konfrontasie met mense – gelouter deur rampe, durf Mayafudi 'n epiese swerftog aan op die voetspore van sy beroemde oupa, Mafunyane, berugte kwaai bul met die manjifieke tande. Rou herinneringe bring Mayafudi tot 'n gewelddadige uitbarsting. Die groot olifant storm 'n safarivoertuig. As hy vir sy lewe moet vlug, dryf sy oudag-herinneringe hom terug na sy kleindae-kontrei. Die lewensmoeë olifant vind rus vir sy onstuimige hart langs die graf van sy kloeke moeder, Ukuthula. Hier in die oewerbos langs die Sabierivier wag ook ‘n heerlike ontdekking ... 'n Plek-plek hartverskeurende storie wat oud en jonk met nuwe oë na olifante sal laat kyk.

Resensie deur Anton Jansen:

Wanneer dit kom by stories oor diere, is ek maar - lig gestel - 'n fabelagtige snob, en min skrywers kan my vasvang met hulle verhale soos De la Fontaine en sy Franse fabels waarvan ek elke liewe een gelees en bestudeer het. Die gevolg is dat ek mettertyd begin glo het niemand kan naby hom kom nie; en daar kry ek toe 'n heerlike verrassing met hierdie storie.

Wat my eerstens gevang het van hierdie boekie, is die vroeë belofte (aangesien ek dit op my e-leser gelees het, kan ek ongelukkig nie pagineer nie): "Hy besef egter met 'n pyn soos 'n dolksteek dat hy verkeerd gedoen het. 'n Eerbare olifant kan hom beteuel... Die veldwagters sal weldra begin soek, swaar gewapen ... met die opdrag om die gevaarlike bul van kant te maak." En hiervandaan bou die storie 'n algehele glorie van vrees by die leser oor wanneer daardie dag gaan kom.

Mayafudi is nie net 'n olifant nie; vir my is hy 'n LEWENDE karakter met insig, geskiedenis en 'n gewete, en natuurlik leer die leser 'n hele paar lesse (23 om presies te wees) oor respek vir die diereryk - waarvan die belangrikste les die feit is dat diere ook maar net gevoelens het soos mense.

Die storie is geskryf met duidelike insig vanaf die skrywer, en die vloei van die verhaal het my in so 'n mate geboei dat dit werklik moeilik was om neer te sit. Ek het byvoorbeeld in my volwasse klasse spesiale "leessessies" aan my studente opgedra, net sodat ek onversteurd self verder kon lees - hulle met vervelig-verpligte artikels, en ek kuier ongesteurd saam met Mayafudi.

Was die boek beskikbaar in Engels, het ek dit vir hulle verpligte leesstof gemaak. Gevolglik kon ek egter die verhaal slegs oorvertel, en hulle het aan my lippe gehang. Hulle wou daagliks weet wat het ek nuut gelees omtrent Mayafudi. My studente is Taiwannees, en gevolglik ken hulle nie (behalwe vir troeteldiere) die diereryk soos ons Suid-Afrikaners nie. En, dis waar die lekkerste van lekker ingekom het: om die verhaal met my studente te kon deel.

Die een ding wat bo alles uitstyg in die verhaal, is "'n Trop olifante bestaan nie net uit 'n klomp vreemdelinge wat toevallig saambondel nie. Die lede vorm 'n sosiale groep wat vriendelik is met mekaar en mekaar se laste dra." Hoe wens ek dat dit weer die geval kan word onder die mensdom. Daar is uiteraard BAIE wat ons by olifante kan leer.

Wat die boek verder aanbevelenswaardig maak, is die feit dat daar, soos vroeër gesê, soveel lesse is om te leer, en nie een van hierdie lessies is iets wat in jou gesig gegooi word nie, en dis nie prekerig nie. Jy besef eenvoudig dat jy nog iets geleer het.

Die boek is beslis 'n móét-lees vir alle diereliefhebbers, want dis werklik fabelagtige werk. As mense is daar soveel wat ons by hierdie dierbare olifant kan leer; en met oorvertelling kan selfs kinders hom leer ken. Dus is dit nie net 'n lekkerleesverhaal nie, maar ook uiters opvoedkundig.

'n Laaste woord van my kant af: Wees gereed om in kontak te kom met jou emosies wanneer jy Mayafudi leer ken en ervaar. Ek sak my kop in skaamte vir die feit dat ons ons diereryk so onderskat.

 

Title:Spore in die Bos: swerftog van 'n olifantFormat:Kobo ebookPublished:November 9, 2012Publisher:e-Boeke vir Afrika

The following ISBNs are associated with this title:

ISBN:9990005560559

Look for similar items by category:

Reviews